Bielie van ’n kolfspel

Die Hoërskool Witteberg se eerste meisieskrieketspan het ’n goeie aanduiding gegee van hoe die nuwe seisoen hom kan afspeel.


Die Hoërskool Witteberg se eerste meisieskrieketspan het ’n goeie aanduiding gegee van hoe die nuwe seisoen hom kan afspeel.

Die meisies het hul teenstanders in hul tweede wedstryd behoorlik laat les opsê.

Witteberg het op 21 September teen die Hoërskool Paul Erasmus se B-span in Senekal kragte gemeet.

Die kolfblad is eerste deur Witteberg betree, waar Leozé Lottering en Evané du Toit die viere en sesse laat neerreën het.

Leozé het 151 lopies van 65 balle gemoker sonder om haar paaltjie te verloor, en Evané ’n indruk­wekkende 102 lopies van 39 balle, ook sonder dat sy uitgeboul is.

In 20 beurte het Witteberg 305 lopies vir die verlies van slegs 1 paaltjie aangeteken.

Senekal is ingestuur om die doelwit van 306 lopies te jaag, maar Witteberg se boulers het nie op hulle laat wag nie.

Sommer vinnig-vinnig was die telling drie penne plat vir slegs vier lopies.

Evané het met die bal drie paaltjies in twee beurte geneem. Leozé, Ziané Lottering en Marichelle Spies het elk ook twee paaltjies in twee boulbeurte geneem.

Nadat die tien penne van Senekal gekantel het, was die uitslag oortuigend in die guns van die besoekers: Witteberg het met 259 lopies gewen.

Witteberg se eerste wedstryd is op 19 September teen die Hoërskool Ficksburg gespeel, en die span het dié wedstryd met 10 paaltjies gewen.

“Ons is ongelooflik trots op die meisies. Dit is so lekker om te sien hoe hulle verbeter, wedstryd ná wedstryd,” sê Melincke Maartens, een van die span se afrigters.

Maartens en Jaco Ackerman rig die span af.

Die span sal vandag (28/09) weer teen Ficksburg kragte meet, op sy tuisveld.

You need to be Logged In to leave a comment.