Die jaarlikse Ysbeerswem-uitdaging ten bate van liefdadigheid word vanjaar ’n 29ste keer aangebied.
Soos verlede jaar kan deelnemers kies van drie swemgeleenthede.
Die Ysbeerswem-uitdaging vir die Goudveld, wat by die Aldam-vakansieoord buite Ventersburg gehou word, sal op Saterdag 29 Junie om 12:00 begin.
“Vanjaar dra ons die Ysbeerswem by Aldam aan wyle Alet van der Walt, joernalis van Volksblad en Netwerk24, op. Alet was ’n groot ondersteuner van die jaarlikse swemuitdaging en het gereeld daaroor verslag gedoen,” sê Felix Burri, organiseerder.
“Die welstand en belange van haar gemeenskap was vir haar uiters belangrik, en sy het ook al die ysbeer geswem.”
Burri het dié uitdagende swemgeleentheid ten bate van liefdadigheid destyds met 12 deelnemers begin, en in onlangse jare het ongeveer 300 of meer swemmers deelgeneem.
Die Ysbeerswem-uitdaging het ook intussen uitgebrei, en geleenthede word by Doringbos buite Bloemfontein, asook in die Rogge Cloof-natuurreservaat buite Sutherland, aangebied.
“Ons beoog om vanjaar vir die eerste keer ook die Ysbeer by Victoria- of Heroldsbaai buite George aan te bied,” sê Burri.
Die geleentheid by Bloemfontein word op Saterdag 6 Julie gehou, en in Sutherland word dit op Saterdag 13 Julie aangebied.
Toegang tot die terrein kos R100 per voertuig, wat aan ’n plaaslike geïdentifiseerde welsynsorganisasies geskenk sal word. Inskrywing om te swem kos R100 per deelnemer. Swemmers moet tien jaar of ouer wees.
Elke deelnemer ontvang ’n volkleurmedalje.
Burri sê die mikpunt is om R25 000 vir liefdadigheid in te samel.
Vir meer inligting bel Burri by 082-851-4584 of volg Polar bear/Ysbeer swem op Facebook.