Bhm kry weer ’n beurt

Leë krane is ’n algemene verskynsel in talle Vrystaatse dorpe. Inwoners moet gereeld dae – of selfs weke lank – sonder water klaarkom.

Die onlangse waterkrisis in die Dihlabeng-munisipaliteit was blykbaar daaraan te wyte dat ’n pomp by die Saulspoortdam onklaar geraak het. Die pomp is intussen herstel, maar die hoërliggende gebiede in Bethlehem was Maandag (09/05) steeds sonder water.Foto: Isoldé Laesecke

Credit: SYSTEM

Leë krane is ’n algemene verskynsel in talle Vrystaatse dorpe. Inwoners moet gereeld dae – of selfs weke lank – sonder water klaarkom.

Paul Roux en Rosendal was juis drie dae lank sonder water.

Nadat toevoer op Donderdag 5 Mei in Bethlehem onderbreek is, het sekere woonbuurte teen Maandagmiddag (09/05) steeds nie water gehad nie.

“Ons is veral bekommerd oor tehuise vir bejaardes en sentrums vir gesondheidsorg wat erg deur die waterkrisis geraak word,” sê Isoldé Laesecke, onafhanklike raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit.

“Ons sukkel nou al jare lank met watertoevoer, maar in die afgelope jaar het dinge drasties vererger.”

Volgens Tshediso Maitse, munisipale woordvoerder, is die nuutste waterkrisis daaraan te wyte dat een van die twee pompe by die Saulspoortdam onklaar geraak het.

“Weens die gebreekte pomp kon water nie na die opgaardamme gepomp word nie,” sê hy.

Teen Maandag was die vlak van die Birdcage-opgaardam, wat water aan hoërliggende gebiede in Bethlehem voorsien, nog onder 10%.

Intussen het die Dihlabeng-munisipaliteit Maandag ’n verklaring uitgereik om inwoners in te lig dat beperkings moontlik ingestel sal word om te verseker dat watertoevoer na alle woonbuurte herstel word.

“Die waterkrisis bly ’n reuse-uitdaging juis omdat almal nie oor ’n watertenk, swembad of boorgat beskik nie,” sê Laesecke.

“Ons moedig inwoners aan om raadslede te bel indien hulle met watertoevoer sukkel. Sodoende word verwarring verminder, asook die rompslomp wat gewoonlik met die uitsorteer van sulke kwessies gepaard gaan.”

  • Netwerk24 het op 2 Mei berig dat inwoners van Senekal bykans drie weke lank sonder water gelaat is. Weens ’n gebrek aan onderhoud het die pypleiding glo ineengestort.

You need to be Logged In to leave a comment.