Bhm dra meisie op die hande

Bethlehem se strate is “pienk geverf” toe gemeenskapslede, in dié kleur aangetrek, in groot getalle opgedaag het vir ’n pretstapgeleentheid ten bate van die vyfjarige Liza Engelbrecht, wat aan ’n seldsame siekte ly.


Bethlehem se strate is “pienk geverf” toe gemeenskapslede, in dié kleur aangetrek, in groot getalle opgedaag het vir ’n pretstapgeleentheid ten bate van die vyfjarige Liza Engelbrecht, wat aan ’n seldsame siekte ly.

Kroniese granulomatose is ’n outo-immuunversteuring wat die inflammasie van bloedvate in verskillende dele van die liggaam veroorsaak.

Klein Liza is op nege maande met ’n granuloom (weefselontsteking) op haar long gediagnoseer, en dit is met behandeling genees.

Dit het egter aan die lig gekom dat sy aan kroniese granulomatose lei. Dit beteken dat Liza se witbloedselle haar nie teen sekere soorte bakterie wat lewensbedreigend kan wees, beskerm nie.

’n Beenmurg­oorplanting was noodsaaklik. Danksy ’n anonieme skenker het sy in Januarie die oorplanting by die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion ontvang.

Liza se ouers is Werner en Janet Engelbrecht van Bethlehem, en sy het ’n tweelingsussie, Elyna.

Die Engelbrechts wil Esthea Bekker, wat die pretstapgeleentheid vir geldinsameling op 19 Maart gereël het, asook almal in die gemeenskap wat hierby betrokke was, hartlik bedank. Hulle moedig mense aan om beenmurgskenkers te word.

Voornemende skenkers kan die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) by 021-447-8638 kontak, ’n e-pos aan donors@sabmr.co.za stuur, of die Sunflower Fund, ’n skenkerwerwingsentrum wat bewustheid oor bloedsiektes en stamselskenking skep, op 0800-12-10-82 kontak. Besoek sunflowerfund.org.za vir inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.