In slegs vier maande het Vrystaat Landbou (VL) en Landelike Gemeenskapsveiligheid (LGV) se private veediefstal-ondersoekers­beweging reuse-suksesse in die bekamping van dié misdaad behaal.

Sedert 1 Julie is 241 skape en 98 beeste, wat altesaam sowat R1,5 miljoen werd is, teruggevind. Benewens dat 14 verdagtes in verband met ses veediefstalsake in hegtenis geneem is, is daar op vier voertuie en een sleepwa beslaggelê.

“Dit was noodsaaklik om so ’n beweging op die been te bring weens die toenemende veediefstal, wat onaanvaarbare vlakke bereik het. Dit het duidelik geword dat ’n gemeenskapsbeweging benodig word om veediefstal te help bekamp,” sê Jakkals le Roux, voorsitter van die VL se landelikeveiligheidskomitee.

Die beweging word bedryf deur private ondersoekers, geregistreer by die Reguleringsowerheid vir die Private Veiligheidsbedryf (Psira), wat op veediefstal fokus. Die beweging word onder leiding van die VL en die private sekuriteitsmaatskappy LGV in die Fezile Dabi-distrik bedryf.

Dié betrokkenes werk saam met polisiespeurders. Altesaam 24 navraag-dossiere en 26 werklike sake word ondersoek wat verband hou met sekere groeperinge en sindikate se werksaamhede.

Dr. Jane Buys, veiligheidrisiko-analis van die VL, het benadruk dat daar saam met die polisie gewerk word. Buys het ook daarop klem gelê dat die beweging deur die VL en gemeenskapslede gefinansier word.

“Die grootste uitgawes wat aangegaan word is die reiskostes en dagfooie van ondersoekers.

“Dit beteken dat hierdie beweging betreklik uitgebrei kan word indien die openbare steun toeneem.”

You need to be Logged In to leave a comment.