’n Stewige bedrag van R700 000 ten bate van plaasveiligheid is met twee van VKB se jaarlikse gholfdae ingesamel.
Die insamelingsveldtog van VKB, in samewerking met borge en skenkers, is vanjaar ’n sewende keer aangebied.
Die gholfdae is onderskeidelik op 20 April op die Clarens Golf and Leisure-landgoed in die Oos-Vrystaat en op 11 Mei op die Koro Creek-gholflandgoed in Limpopo gehou.
Altesaam 144 spelers het deelgeneem en hiermee kon die organiseerders die noemenswaardige bedrag insamel.
Volgens Jan van der Walt, besturende direkteur van verkryging en die voedselketting, bly VKB verbind tot die verskaffing van hulp aan en die ondersteuning van die boerderygemeenskap.
“Hierdie uitreiking na die gemeenskappe in die bedieningsgebied van dié landboumaatskappy is in pas met VKB se waardes, naamlik om doelwitgedrewe en nederig te wees en op mense te fokus,” sê Van der Walt.
Die geld wat ingesamel is, sal op diskresie van VKB se bestuursliggaam aan verskeie boereverenigings en -instansies in die twee bedieningsgebiede van VKB toegeken word. Vanjaar sal die geld vir beveiligingsprojekte op plase aangewend word.
Hoewel Total en VKB die hoofborge van die twee gholfdae is, het talle ander verskaffers van VKB ook ruim bydraes gelewer om van die veldtog ’n sukses te maak.
“Ons landbougemeenskap is onontbeerlik in voedselverskaffing. VKB stel ’n baie hoë premie op die veiligheid van ons boere, wat uiteraard ook ons kliënte is, maar meer nog: Hulle is die mense wat voedselsekerheid in ons land waarborg. Dit bly dus vir ons baie belangrik om benewens ons rol as verskaffer van alles wat die boer nodig het ten opsigte van sy werksaamhede, ook te help om hulle veilig te hou.”
Van der Walt spreek sy opregte dank uit teenoor al die borge en betrokkenes wat van hierdie twee gholfdae ’n reuse-sukses gemaak het.
“Dit is wonderlik dat ons weet ons kan met hierdie mense hande vat sodat ons op ons beurt ’n helpende hand kan uitreik na die landbougemeenskap,” sê hy.
Sedert 2016, toe VKB met die gholfdae begin het, is daar ’n bedrag van 3 miljoen tot die Plaasveiligheidsfonds bygedra.