Beurtkrag ruk boere in VS se sak

Die huidige vlaag beurtkrag het ’n groot invloed op landbou, en van veeboerderye tot graanlewerings, vrugte­boerderye, veiligheid en veesuipings word deur die krisis geraak.

Eskom se voortslepende beurtkrag het n’n enorme inpak op boerderye, van veekrale tot vrugteboerderye word hierdeur benadeel.Foto: madli grobbelaar

Credit: SYSTEM

Die huidige vlaag beurtkrag het ’n groot invloed op landbou, en van veeboerderye tot graanlewerings, vrugte­boerderye, veiligheid en veesuipings word deur die krisis geraak.

“Elektrisiteit is sentraal tot moderne boerderypraktyke en die onlangse toename in beurtkrag het landbou ernstig ontwrig,” sê Agri SA se hoofdirekteur, Christo van der Rheede, in ’n mediaverklaring.

Vrystaatse boere vertel wat die praktiese implikasies van beurtkrag op plase is:

“Ons moet daagliks twee groot kragopwekkers laat loop, wat honderdduisende rande se diesel ’n maand verbruik,” sê Pieta Hoffmann, voerkraalbestuurder by Wessels Voerkrale, buite Bothaville.

Die voerkraal voer sowat 3 000 beeste op ’n slag en net die entstof en medisyne wat aangehou word, is enige tyd R250 000 werd.

“Ons kan nie bekostig dat dit warm word nie,” sê Hoffmann, wat die voerkraal vir Gert Wessels bestuur.

In die winter gebruik Hoffmann sproeiers om die grond klam te hou omdat stof longsiektes by die beeste veroorsaak. Benewens dié water suip die beeste nog 200 000 liter water per dag.

Hy sê voer word daagliks vars gemeng en ook daarvoor moet heeldag krag beskikbaar wees.

Wessels Voerkrale bedryf saam met die voerkraal ’n abattoir waar die vleis onmiddellik verkoel moet word en deurentyd op die regte temperatuur gehou moet word.

Die ure wat ons nou Eskom-krag het, is net nie genoeg om die boerdery te bedryf nie, sê Hoffmann.

Hy sê die vaste koste vir die kragpunte op Wessels se plase beloop nagenoeg R40 000, en dit moet steeds betaal word.

Douglas Osler, ’n boer van Bethlehem, sê dit kos sowat R4 000 per dag aan brandstof om pakhuise, waar appels en aartappels verpak word, aan die gang te hou.

“Ons is bekommerd oor wat in die komende maande by Eskom gaan gebeur, omdat ons in September en Oktober water op die appelboorde sproei om die bloeisels teen ryp te beskerm,” sê hy.

Dit is kritiek belangrik om met dié metode die oes vir die volgende seisoen teen koueskade te beskerm en sou daar beurtkrag wees, kan ’n vrugteboer sy hele oes verloor, sê Osler.

“Die kragopwekkers kos ons baie geld en dan moet ons steeds die vaste koste van ons Eskom-lyn betaal,” verduidelik Osler.

Graansilo’s gaan op die oomblik groot koste aan omdat krag nodig is wanneer graan gelewer word om dit in die silo’s te pomp.

Osler sê hy weet van die silo’s het kragopwekkers aangeskaf.

You need to be Logged In to leave a comment.