Beurtkrag hou krane droog

Inwoners van Bethlehem, soos dié van soveel ander dorpe in die Vrystaat, is raadop weens die voortslepende waterkrisis.


Inwoners van Bethlehem, soos dié van soveel ander dorpe in die Vrystaat, is raadop weens die voortslepende waterkrisis.

Dorpe in die Dihlabeng-munisipaliteit gaan die afgelope vyf jaar hieronder gebuk, hoewel die situasie in die afgelope twee jaar dramaties vererger het.

Dit is veral die inwoners van hoogliggende gebiede in Bethlehem wat die ergste geraak word.

Die munisipaliteit het Maandag (20/02) ’n memorandum aan inwoners gestuur waarin versoek word dat water spaarsamig en oordeelkundig gebruik word. Die skrywe bevestig ook dat die watersuiweringsaanleg van die munisipaliteit onder hewige druk verkeer weens beurtkrag.

“Dit is ’n onbegonne taak om die opgaardamme vol te hou, omdat ons bykans 12 uur per dag nie water kan pomp nie, weens beurtkrag,” sê Tshediso Maitse, woordvoerder vir die Dihlabeng-munisipaliteit.

“Die vlak van die hoofopgaar­dam is vandag weer op 0%. Dit noodsaak die munisipaliteit om strenger maatreëls in te stel,” het hy verduidelik.

Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, het sy kommer uitgespreek.

“Net soos Parys is Bethlehem met water omring, maar inwoners het nie water in hul krane nie. Dit wys dat die ANC-beheerde munisipaliteite weens kaderontplooiing die vermoë om basiese dienste en geld te bestuur, vernietig het,” meen Jankielsohn.

“Die DA het in Bloemfontein ’n memorandum oor water aan die premier oorhandig.

“Die premier wil ook geen verantwoordelikheid aanvaar nie vir inwoners van die provinsie se waterskaarste – wat as ’n provinsiale ramp hanteer behoort te word.

“Die DA probeer op alle vlakke die aangeleentheid rondom water en Eskom hanteer, maar inwoners in alle dorpe sal volgende jaar by die stembus ’n verandering aan hul omstandighede moet meebring.”

Tseki Tseki, uitvoerende burgemeester van die Dihlabeng-munisipaliteit, het Maandag die volgende terugvoering aan raadslid Willie Theunissen oor die waterkrisis gegee.

“Weens fase 6-beurtkrag wat van toepassing is, moet ons strenger waterbeperkings toepas. Ons het wel ekstra kragopwekkers vir die Saulspoort-wateraanleg verkry in die hoop om stabiliteit met die watertoevoer te bewerkstellig.”

Tseki het bevestig dat Dihlabeng by Eskom aansoek gedoen het om vrystelling van beurtkrag, maar dat Eskom voorgestel het dat die munisipaliteit sy eie beurtkragskedule opstel of by die bestaande skedule moet hou.

Die munisipaliteit het ’n besluit geneem om beurtkrag in ooreenstemming met die Eskom-skedule te kry.

Intussen is drie watertenkwaens om water aan inwoners van Bethlehem te voorsien beskikbaar gestel en twee is aan die buitedorpe beskikbaar gestel.

You need to be Logged In to leave a comment.