’n Jong perderuiter van Bethlehem het uitstekend gevaar op die nasionale uithouritkampioenskapsbyeenkoms wat by Fauresmith plaasgevind het.
Rhoné Naudé (13), ’n gr.. 7-leerling aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem, het die negende plek in haar gewigsklas behaal.
Die byeenkoms is van 5 tot 7 Julie oor 206 km aangebied.
Hoewel 298 ruiters die uitmergelende uithourit in uiteenlopende weersomstandighede aangepak het, het slegs 126 dit voltooi.
Drie veeartspunte langs die roete verseker dat elke perd in puik kondisie bly deurdat die perd se hidrasie, maaggeluide en polsslag – wat onder 64 bpm moet wees – ondersoek word.
Sou ’n perd se gesondheid in enige stadium nie na wense wees nie, val dié perd en ruiter uit.
Om vir die nasionale kampioenskap te kwalifiseer moes Rhoné minstens drie 80 km-uithouritte voltooi.
“Ruiters kan hulle eers by die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Erasa) aansluit in die jaar dat hulle tien jaar oud word. In Rhoné se eerste jaar het sy reeds aan kwalifiserende ritte deelgeneem in die hoop om vir Fauresmith te kwalifiseer wanneer sy 11 jaar oud is. Ongelukkig het die Covid-19-pandemie dié planne gekelder,” sê Soenel Naudé, haar ma.
Rhoné en haar drie perde, Arkab Alfa, Moolmanshoek Nirvana en Misty, ry elke naweek 30 km tot 40 km ter voorbereiding vir haar uithouritte.
In die laaste maand voor die nasionale kampioenskapsbyeenkoms by Fauresmith het sy probeer om Vrydae 10 km, Saterdae 25 km en Sondae 15 km op haar perde te oefen en om haar perd te kondisioneer vir die drie agtereenvolgende dae se ry.
Sy oefen nou vir die Imla-uithourit oor 80 km, wat op 27 Augustus in Clocolan plaasvind, en op 30 September gaan sy aan die Moolmanshoek-uithourit, ook oor 80 km, in Rosendal deelneem.
Rhoné en haar perde sal dan ’n ruskans neem en eers weer in Januarie 2023 begin oefen.