Omstredenheid heers oor die Dierebeskermingsvereeniging (DBV) in Bethlehem se voorsitter, wat geskors is.
Corlene van der Merwe, wat sedert 2010 by die Bethlehem DBV betrokke is, het op Dinsdag, 29 Oktober ‘n brief van die Nasionale Dierebeskermingsvereeniging (NDBV) ontvang dat sy geskors is.
Volgens Van der Merwe, wat die afgelope vier jaar die voorsitter van die DBV hier was, is sy geskors, omdat die Bethlehem-tak nie ‘n perd van kant wou maak op die NDBV se aanbeveling nie.
“Die perd is deur ‘n plaaslike veearts behandel, het goed aangesterk. Hy is springlewendig en stap rond. Wat sou die rede wees om ‘n dier, wat gered kon word van kant te maak,” sê Van der Merwe.
Die NDBV het op navraag wat VrystaatKroon, Donderdag, 31 Oktober gestuur het, op Woensdag, 6 November die volgende terugvoer gegee.
“Die idee dat die NDBV teen die Bethlehem DBV is, is ongegrond. Ons het ‘n statutêre verpligting om die Wet op DBV’s en die reëls, wat daarvolgens gemaak word, af te dwing. Verder bestaan die NDBV se raad van direkteure, wat besluite neem ingevolge Artikel 11 van die Wet, ook uit verteenwoordigers van individuele DBV’s en streeks-/provinsiale verteenwoordigers wat deur die DBV’s tydens die jaarvergadering ingestem is. Hierdie besluit word dus nie geneem deur ‘n paar individue wat ‘n “vendetta” het nie – dit is bereik deur verteenwoordigers van binne die DBV, wat elkeen die geleentheid het om onafhanklik, regverdig en sonder invloed te oorweeg en te stem,” sê Jacques Peacock woordvoerder van die NDBV.
Van der Merwe het op regsadvies besluit om haar tot die hof te wend om dié onregmatige beslissing ter syde te stel.
“Ek het nog altyd in die belang van die diere opgetree. Hulle is immers die DBV se eerste prioriteit. Omdat daar ‘n geskil tussen die plaaslike DBV en die NDBV is oor hoe daar na die diere omgesien moet word, is ek geskors.”
Die NDBV het ook bygevoeg dat Van der Merwe, sedert 2017 tot 2024 onderskeidelik as voorsitter en ondervoorsitter gedien het en in die tydperk tien, 30-dae briewe vir oortredings rakende die DBV wetgewing uitgereik is.
Van der Merwe sê, dat die Bethlehem DBV gereeld briewe ontvang het vir geringe oortredings en dat die Bethlehem DBV die bevindings teengestaan het. “Tot op datum is geen terugvoer oor die teenkanting vanaf die NDBV ontvang nie. Ses van die 30-dae briewe het gehandel oor die bewoording in finansiële state, waaroor ons nie beheer het nie.”
Raadslid Willie Theunissen, van die Demokratiese Alliansie (DA) in Bethlehem sê, dat die onlangse ingryping deur die NDBV by die plaaslike DBV, wat die verwydering van Corlene van der Merwe uit haar leierskap posisie ingesluit het, kommerwekkend is.
“Hierdie aksie het ernstige kommer gewek, aangesien die NDBV aangedui het dat hulle óf volle beheer oor die plaaslike tak kan oorneem of, in die ergste geval, die tak heeltemal kan sluit. ’n Uitkoms wat tragies sou lei tot die genadedood van die diere, wat nou in die organisasie se sorg is.”
‘n Vreedsame optog word vir Saterdag, 9 November by die perseel van die plaaslike DBV in Bethlehem beplan, sodat die gemeenskap hul misnoeë oor die bogenoemde besluite kan betoon en om hul ondersteuning aan die plaaslik DBV te bewys.
VrystaatKroon het verneem dat die minister van landbou, John Steenhuisen oor die voorval ingelig is en ondersoek gaan instel.