Beste uit Bhm

Groot opgewondenheid heers in Bethlehem oor ’n atleet van die dorp wat in Egipte as die o.19-biathle-wêreldkampioen aangewys is.


Groot opgewondenheid heers in Bethlehem oor ’n atleet van die dorp wat die afgelope naweek in Egipte as die o.19-biathle-wêreldkampioen aangewys is.

WJ Kruger (17), ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, het Suid-Afrika se naam hoog gehou op die wêreldkampioenskapsbyeenkoms wat van 10 tot 13 Oktober in Port Said plaasvind het.

WJ het in sy individuele nommer in die halfeindronde ’n tyd van 12:05.30 behaal, en eindelik het hy met 11:36.90 ’n goue medalje verwerf.

Hy het ook ’n silwermedalje as lid van die Suid-Afrikaanse span verwerf, en nog ’n goue medalje in die gemengde aflos, saam met Loghan Gray, met ’n tyd van 12:52.91.

“Dit was ’n ongelooflike belewenis om teen soveel topatlete van oor die wêreld heen kragte te meet,” het WJ vanuit Egipte gesê toe VrystaatKroon op Maandag 14 Oktober met hom gesels het.

“Hoewel die hardloop op seesand in dodelike hitte baie uitdagend was, is ek dankbaar ek was goed voorbereid vir die hardloop en swem in die see.”

WJ se doelwit was om ’n medalje op die op die byeenkoms te verwerf – nou bring hy drie medaljes huis toe.

Die afstande vir die o.19-nommer is 1 600 m hardloop, 200 m swem en 1 600 m hardloop.

Reeds ’n kranige sportman, andersins, het WJ eers verlede jaar dié sportsoort op die proef gestel en vinnig ’n liefde daarvoor ontwikkel.

In Augustus vanjaar het hy aan die Suid-Afrikaanse kampioenskaps­byeenkoms in Oos-London deelgeneem, waar hy as die nasionale o.19-seunskampioen gekroon is.

Verlede jaar het hy ’n silwermedalje in die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir seuns o.17 ontvang en gekwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse-span wat in Bali, Indonesië, aan die wêreld­kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het.

Daar het hy ’n eerste plek in die uitdunne behaal en was hy uiteindelik tiende.

WJ, wat as nasionale en wêreldkampioen vir 2024 in die o.19-afdeling gekroon is, is dankbaar teenoor sy afrigters Casper de Villiers (hardloop) en Tina Nel (swem), wat hom gehelp het om die prestasies te bereik.

As gedisplineerde atleet oefen hy ses dae per week en hy glo harde werk word beloon.

Hy is ook ’n kranige landloop- en atletiekatleet wat in die afgelope twee jaar sy provinsiale kleure in dié sportsoortt ontvang het. Vanjaar is hy as die Vrystaatkampioen in die 800 m en 1 500 m op die Vrystaat-skoleatletiekbyeenkoms gekroon.

  • WJ het op die Vrystaat Sportsterre-geleentheid erkenning ontvang vir sy prestasies die afgelope jaar, waar die Universiteit van die Vrystaat en Sentraal24 verskeie uitblinkers vereer het. Lees oor dié gala-geleenheid op bl. 6 en bl. 7.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.