Beskouing bepaal kleure in kaleidoskoop

Die jaar snel voort April se kant toe. Vanmiddag voel dit kompleet asof al die goeie voornemens vir die jong jaar ’n vae herinnering is.


Die jaar snel voort April se kant toe. Vanmiddag voel dit kompleet asof al die goeie voornemens vir die jong jaar ’n vae herinnering is.

’n Draai deur my tuin gee egter perspektief. Dit is wonderlik om die lewe te sien gebeur. Die bye baljaar. Die bome en plante uiter ’n diep sug van pure lekkerkry ná vanoggend se reën. Die natuur lyk vars en vrolik teen die donker skakerings van die grys dag.

Terwyl ek alles betrag, het ek ’n diep dankbaarheid in my gemoed.

Dalk is dankbaarheid die siel se water vir die onstuimigheid binne ons. ’n Dankbaarheid vir die klein dingetjies wat ons soms so as vanselfsprekend aanvaar.

Soos heuning.

Ek besef weer, nadat ek ’n paar bye dophou, hoeveel ure se werk dit verg om een teelepel heuning te maak. Bye vlieg glo 85 000 km om 500 g se heuning te maak. Dit is baie kilometers vir bittermin heuning. Tog glo ek nie bye dink so daaroor nie. Dit is ’n by se roeping om met ywer vir die korf te werk. Dan raak al die kilometers en persoonlike opofferings ’n bysaak. Die wonder van hul arbeid is dat heuning vir jare daarna nog gebruik kan word.

Die punt wat ek wil maak, is baie eenvoudig. Soos bye moet ons leer om op die groter prentjie te fokus.

Baie van ons kyk dit mis omdat ons so hard op ons eie pad en al sy struikelblokke fokus. Ons verloor dan tred en, sonder dat ons dit besef, glip negatiwiteit op ons pad op. Dan kry ons tonnelvisie; beleef ons interne storms.

Natuurlik is dit ’n vereenvoudigde voorbeeld, maar maak ons nie alles te kompleks nie? Dalk, as ons die mooi van ons bestaan raaksien, kan ons begin leef met die wete dat die groot afstand wat ons soms moet stap, sin gee aan die groter prentjie van ons bestaan op aarde.

Die goed en sleg vervaag dan en vloei saam in ’n kaleidoskoop van kleur wat ons die lewe noem. Die kleure kan ons self kies. Dit is ’n besluit. Elke dag.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.