’n Raadslid van Kroonstad sterk goed aan nadat hy met ’n stukkende glasbottel deur ’n booswig aangeval en in sy regteroog gesteek is.
Die 45-jarige Spaski Geldenhuis, DA-raadlid van die Moqhaka munisipaliteit in Kroonstad, is op Dinsdag 2 April omstreeks 20:20 in die Môrewag-woonbuurt, Kroonstad, aangeval.
Geldenhuis en Rushad Ortel het ’n verdagte man genader toe hulle hom uit ’n erf met ’n sak in Môrewag, sien loop. Die man het die glasbottel stukkend geslaan en Ortel in die arm gesteek en weggehardloop.
Geldenhuis en lede van die Kroonstad-buurtwag wat ontbied is, het die man agternagesit. Toe hulle hom aankeer het hy Geldenhuis in die oog steek.
Die man is in hegtenis geneem en Geldenhuis is hospitaal toe gehaas. Hy het steke gekry en is die volgende dag deur dr. Bennie Muller, ’n oogspesialis van Bethlehem, geopereer.
“Die aanpassing is baie groot; my kopseer is nou in 3D. Die dokter kon nog nie bepaal of ek weer met die oog sal kan sien nie, maar vir nou is ek dankbaar die oog herstel self. Daar is ’n moontlikheid dat ek met ’n groot retinale operasie dalk weer sig sal hê. ’n Bioniese oog is ’n oplossing, maar ongelooflik duur.”
Geldenhuis sê die Kroonstad-buurtwag doen gereeld roetine-inspeksies en dat hulle meer paraat en versigtig sal moet wees.
In ’n verslag deur die Kroonstad-buurtwag vir die tydperk van 4 tot 15 April is die volgende statistieke:
- Veediefstal Z perde teruggevind;
- kabeldiefstal Z twee keer in Tuinhof;
- vloede Z groot deel van dorp is geraak en een persoon is steeds vermis;
- roof in Stewartstraat;
- betreding en diefstal in Gowletstraat;
- diefstal in Brand-, Oranje- en Cross-straat. Blackhawk sekuriteitsdienste neem verdagte in hegtenis vir die diefstal van lugreëling wat in Cross-straat gesteel is. In Maraisstraat is ’n sleepwa se wiele gesteel;
- huismoles op die Kraalkop-plotte, Marais- en Lehmanstraat aangemeld;
- inbraak in Rulestraat;
- betreding in Lintotstraat; en
- gesteelde voertuig Z polisie opsoek na voertuig vermoedelik gesteel, voertuig gevind op Viljoenskroonpad en hanteer saak met verhuringsmaatskappy.
In dié tydperk het die buurtwag altesaam 1 050 km patrolleer in 251.25 ure.
Die Kroonstad-buurtwag is ’n gratis diens wat deur inwoners gelewer word en is afhanklik van donasies om hul werksaamhede voort te sit. Hulle wil graag ’n hommeltuig met nagsig teen R300 000 aanskaf om misdaad te bekamp.
“Daar is reeds oor die 150 lugreëlings gesteel by sakeondernemings op die dorp. Die skelms plunder leë huise, en kitsbank-misdaad is aan die toeneem. Die hommeltuig sal ons in staat stel om veediewe wat hoofsaaklik in die nag toeslaan, vas te trek,” sê Pieter Geldenhuis van die Kroonstad-buurtwag.
Belangstellendes wat hulle by die buurtwag wil aansluit of meer inligting wil bekom, kan ’n e-pos stuur na kroonstadbuurtwag@gmail.com, vir die aandag van Linda Louwrens.