Beseer ná val

’n Gr. 8-leerling aan die Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon herstel wonderbaarlik nadat hy in ’n vierwielmotorfietsongeluk was.


’n Gr. 8-leerling aan die Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon herstel wonderbaarlik nadat hy in ’n vierwielmotorfietsongeluk was.

Die 14-jarige Dirk du Pisani van Viljoenskroon het op 26 November met sy vierwielmotorfiets op ’n stuk veld buite Viljoenskroon gaan ry toe hy onverklaarbaar in ’n mangat, wat onsigbaar was, beland het.

“Ons kon nie glo dat Dirk wat die omgewing so goed ken en gereeld daar met sy vierwiel­motorfiets gaan ry, in die mangat ingery het nie,” sê Alida du Pisani, sy ma.

Volgens Alida was die mangat onder sand en kon dit nie met die blote oog gesien word nie. Daar was wel nog mangate op die stuk grond waar daar glo ontwikkeling gaan plaasvind, en die res van die mangate was duidelik met ’n vlaggie gemerk.

Alida sê toe Dirk ná die ongeluk by die huis gekom het, het hy nie eers ’n skraap aan sy lyf gehad nie en slegs die motorfiets se handvatsels was effe gebuig. Hy het wel begin kla dat sy ribbes seer is en hulle het hom toe na die plaaslike dokter geneem vir ondersoek.

Die dokter het bevestig sy ribbes is nie gebreek nie, maar dat hy heel moontlik harsingskudding opgedoen het en hom daarvoor behandel.

Terug by die huis het Dirk twee keer flou geword en het die dokter hulle na ’n hospitaal in Klerksdorp verwys.

Daar is vasgestel dat sy milt gebars het en moes hy verskeie bloedoortappings en plasma ontvang as behandeling.

“Dirk was amper klaar met sy eksamen en moes nog net ekonomiese bestuurswetenskap (EBW) se tweede vraestel skryf.

Ons het ’n sieknota ingehandig en sy finale punte vir die vak sal op ’n ander manier bepaal word. Die skool was baie tegemoetkomend en ons is dankbaar.”

Dirk se toestand het egter baie verbeter en hy is op Saterdag 2 Desember uit die hospitaal ontslaan om by die huis aan te sterk. Dit gaan wel vir hom ’n baie lang Desembervakansie wees omdat hy hom rustig en stil moet gedra.

Hy is die seun van Alida en Duppie du Pisani en het ook ’n boetie, Johan (12), en ’n sussie, Dejonè (7). Altwee die seuns geniet vierwielmotorfietsry en Alida sê dat Dirk reeds op driejarige ouderdom sy eerste vierwielmotorfiets gekry het.

“Dirk is baie verantwoordelik op die motorfiets en daarom was dit vir ons baie vreemd dat die ongeluk gebeur het.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.