Berusting in dié ‘as’ is bevrydend

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” . . . Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” – Jak. 4:13 en…


Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” . . . Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”Jak. 4:13 en 15

Hoe dikwels doen ons nie dieselfde nie?

Oorgerus, so asof ons 100% seker kan wees van môre, verklaar ons gereeld dat ons môre dit of dat gaan doen.

Jakobus wil sy lesers (en natuurlik vir my en jou) ’n waardevolle les in hierdie paar verse leer.

Hy nooi sy lesers uit om weg te loop van ’n eie ek wat so vol van homself is dat daar gewoon nie plek vir God is nie en om voor Hom te buig, aan Hom oor te gee, voor Hom te erken: Ek is maar net ’n damp, ’n miswolkie wat baie vinnig kan verdwyn.

Daarom is ek nie selfversekerd en hoogmoedig en vol roem wanneer ek voor Hom staan en my lewensplanne uiteensit nie. Selfs nie eens wat betref my dag van môre nie, want ek kan gewoon nie met alle sekerheid daaroor praat nie.

Jakobus nooi ons uit om met ’n “as” te leef, en dit is oukei.

Ek hoef nie te probeer om op alle terreine van die lewe in beheer te wees nie.

Ons kan in elk geval nie. Ons leef met ’n “as”, en dit is bevrydend.

As die Here wil en ek leef môre, dan gaan ek dit en dat tot sy eer doen. As dit nie is nie, dan is dit ook oukei, want ek leef mos in Paulus se motto – dat ek in lewe en in sterwe net een wens het, en dit is om Hom in alles te verheerlik.

You need to be Logged In to leave a comment.