Daar word met groot opwinding na die Wesgrow-sentraleskole-sportreeks vir 2023 uitgesien.
Die reeks het reeds in 2018 ontstaan, maar weens die Covid-19-pandemie se invloed is dit vanjaar maar net ’n derde keer aangebied.
Die sportreeks is aanvanklik gestig om die B- en C-sportspanne van skole uit verskillende provinsies die geleentheid te bied om op ’n reeksplatform te kan deelneem.
In 2023 kan deelnemende skole ’n paar veranderinge verwag.
Nadat daar in die eerste drie aflewerings van die reeks in die vorm van ’n groepfase deelgeneem is, het die direksie besluit om met uitspeelwedstryde na afloop van die groepwedstryde weg te doen en eerder alle betrokke skole op ’n interskolegrondslag teen mekaar te laat meeding.
Dus sal daar geen halfeindstryd of eindstryd gespeel word nie.
Skole se plekbehaling aan die einde van die seisoen sal die wenners in elke sportsoort bepaal, wat beteken dat daar in 2023 oor 11 weke interskole-mededinging sal geskied.
Die byvoeging van die Hoërskool Trio in die plek van die Hoërskool Noord-Kaap beloof om groot opwinding te verseker.
In Trio se eerste bestaansjaar het die skool reeds gewys dat hy sterk teen ander skole in die streek kan meeding, en die span van dié skool is die Griffon-o.19-rugbykampioen.
Die deelnemende skole vir 2023 is soos volg: die Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Sentraal, Hoërskool Witteberg, Hoërskool Voortrekker, Hoërskool Diamantveld, Goudveld Hoërskool, Hoërskool Trio, asook die Hoërskool Jim Fouché.
Ná die sportreeks se 2022-jaarvergadering is die volgende lede tot die nuwe direksie van die 2023 verkies: Gys Coetzee van die Hoërskool Voortrekker as uitvoerende direkteur; Henry Wilken van die Hoërskool Jim Fouché as adjunk- uitvoerende direkteur; Nadia Olivier van die Goudveld Hoërskool as administratiewe direkteur; Charles Liversage van die Hoërskool Sentraal as finansiële direkteur; Herman van der Merwe van die Hoërskool Fichardtpark as bemarkingsdirekteur; Hannes Oosthuizen van die Hoërskool Witteberg as direkteur vir mediaskakeling; Roxy Siebert van die Goudveld Hoërskool as direkteur vir geldwerwing; en Dries Pretorius van die Hoërskool Voortrekker as toernooidirekteur.
“Die nuwe direksie wil graag ’n spesiale woord van dank rig aan Paul Sauer van die Goudveld Hoërskool, ’n stigterslid van die reeks en voormalige uitvoerende direkteur vir die afgelope drie jaar,” sê Coetzee.
“Hy het werklik ’n waardevolle bydrae tot die sukses van hierdie reeks gelewer. Hoewel hy sy amp verlaat, is hy steeds deel van die reeks.”
Van 2023 af sal die Wesgrow-sportreeks, ’n pad stap met Supersport Schools, ’n aanlyn televisie-maatskappy, wat alle A-veld-wedstryde van die sentrale sportreeks regstreeks sal uitsaai.