Belanghebbendes vat hande vir vernuwing

Op ’n sakeontbyt wat deur die Ignite and Revive-groep in Kroonstad aangebied is, is sakelui gemotiveer en die pad vorentoe bespreek vir Kroonstad, wat verlede jaar Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie gewen het.

Die Ignite and Revive-groep van Kroonstad het op ’n sakeontbyt op 14 Julie sakelui van die dorp genooi om saam ’n verskil in die gemeenskap te maak. Die groep was hoofsaaklik die dryfveer agter Kroonstad se bekroning as Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar.Foto: Sylvia de Gouveia

Credit: SYSTEM

Op ’n sakeontbyt wat deur die Ignite and Revive-groep in Kroonstad aangebied is, is sakelui gemotiveer en die pad vorentoe bespreek vir Kroonstad, wat verlede jaar Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie gewen het.

Ignite and Revive is in 2016 gestig deur sakelui van die dorp wat ’n verskil wou maak. Hul hoofdoel was om ’n groeiende ekonomie en toerismebedryf te bevorder, asook om gehalte-gesondheidsorg, goeie skole en ouetehuise te help opbou.

Aanvanklik het hulle met slegs opruiming by die ingange na die dorp begin.

Later het hulle uitgebrei deur ondernemings aan te moedig om die verkeerseilande en -sirkels op die dorp aan te neem en in stand te hou. Vele slaggate is opgevul en opknappingswerk is gedoen om vir Kroonstad ’n nuwe baadjie aan te trek.

“Kroonstad is ’n voorbeeld vir die res van Suid-Afrika. Ons het bewys dat deur samewerking met ons gemeenskap, owerhede, sakelui en boere van die gemeenskap, ons ’n reuse-verskil in ons dorp kon maak,” sê André van Pletzen van Ignite and Revive.

Nadat Kroonstad verlede jaar die kompetisie gewen het, het verskeie dorpe oor die land heen by dié dorp kom kers opsteek. Die Ignite and Revive-groep is ook na verskeie dorpe genooi om sy wenresep met gemeenskappe te deel.

“Ons het regtig al ’n ontelbare aantal oproepe ontvang van dorpe wat by ons kom raad vra het om ook in hul gemeenskappe ’n verskil te kan maak.”

Die groep is trots om die nuus te deel dat van die nege finaliste in vanjaar se kompetisie ook vir leiding van Ignite and Revive gevra het, en dat Kroonstad hulle geïnspireer het.

“Dit is verstommend om te sien hoe Kroonstad as voorbeeld soos ’n veldbrand versprei het en hoeveel suksesverhale daar oor die land heen is van gemeenskappe wat saamstaan om ’n verskil te maak.”

Van Pletzen het Ignite and Revive se plan en strategieë vir die sukses van projekte met die gaste op die ontbyt op 14 Julie by die Arcadia-gastehuis gedeel. Sakelui is aangemoedig om hulle by die groep aan te sluit.

Sidney Pittaway sê om terugvoering of hulp van die plaaslike regering te kry is dit belangrik dat die gemeenskap die regte kanale volg.

Van Pletzen sê dit is die groter plan van die Here wat hulle as groep uitvoer, en hulle sou dit beslis nie sonder ’n briljante span, sakelui, boere van die gemeenskap, plaaslike regering en lede van die gemeenskap kon uitvoer nie.

Belangstellendes wat meer oor die werksaamhede van Ignite and Revive te wete wil kom, of wat betrokke wil raak, kan e-pos stuur na info@igniteandrevive.co.za, of bel Van Pletzen by 082-785-5130.

You need to be Logged In to leave a comment.