Bekommernis oor styging in plaasaanvalle

Vrystaat Landbou (VL) is bekommerd oor die toename in plaasaanvalle en -moorde verlede jaar in die Vrystaat. Daar was verlede jaar, ten spyte van die staat van inperking en ’n aandklokreël, agt aanvalle en een moord meer as in 2019. Dit is ’n styging van 12,5%.


Vrystaat Landbou (VL) is bekommerd oor die toename in plaasaanvalle en -moorde verlede jaar in die Vrystaat.

Daar was verlede jaar, ten spyte van die staat van inperking en ’n aandklokreël, agt aanvalle en een moord meer as in 2019. Dit is ’n styging van 12,5%.

Die organisasie het die plaasaanvalle en -moorde vir 2020 ontleed en sal in Maart ’n volledige verslag daaroor uitreik.

Volgens ’n verklaring deur VL was daar 60 plaasaanvalle en 12 moorde in 2020 teenoor die 52 plaasaanvalle en 11 moorde in 2019.

Altesaam 37 dorpe is deur dié misdade geraak met kleinhoewes om Bloemfontein en plase in die omgewings van Hobhouse, Marquard, Odendaalsrus, Theunissen en Virginia, wat as hoëmisdaad-gebiede uitgesonder word.

Byna 30% van die plaasaanvalle en -moorde was in boerderygemeenskappe van dorpe wat naby die Lesotho-grens is.

Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, was 100 mense die slagoffers van die plaasaanvalle.

“Verder is 30 werkers, 23 boere, drie opkomende boere, vyf mense woonagtig op plase of kleinhoewes en tien vroue of seuns van produsente en/of werkers aangeval en/of vermoor.

“Dit is kommerwekkend dat kinders in vyf aanvalle ook onder die slagoffers was,” lui die verklaring.

In die algemeen was daar drie tot ses aanvallers per voorval, en vuurwapens is in 37 plaasaanvalle gebruik.

“Dit dui daarop dat ’n boer of werker en sy vrou aan groepe gewapende aanvallers uitgelewer is.”

Buys sê 25 plaasaanvalle is verlede jaar voorkom danksy inligting wat vooraf uit boerderygemeenskappe deurgestuur is.

Die organisasie sê werkers wat betyds dreigemente en ander inligting deurgegee het, het ook gehelp dat die polisie en veral misdaadintelligensie-strukture inligting suksesvol kon opvolg.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, vra dat boeregemeenskappe en veral gesinne hulself voortdurend met onder meer opleidingskursusse in huis-en-haard-beskerming en gereelde skietoefeninge met gelisensieerde vuurwapens bemagtig.

VL sê danksy die vinnige reaksie van slagoffers en/of die teenreaksie van hul ondersteuningsbasis is in 11 aanvalle niks geroof nie.

Le Roux sê mense moet versigtig wees wanneer hulle van die dorp of die veld na hul werf of plaashuis terugkeer, aangesien meer as die helfte van dié misdade buite die huise voorgekom het.

VL waarsku teen aanvallers wat onder valse voorwendsels op plase aankom en hulself as iemand anders voordoen.

Daar word ook ’n beroep gedoen op boere om by ’n veiligheidstruktuur en -plan in hul gebied aan te sluit.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.