Sportsterre uit die Vrystaat sal vanjaar die sewende keer op die Vrystaatse Sportster van die Jaar-toekenningsgeleentheid vir hul prestasies op die sportveld vereer word.
Die geselligheid vind vanjaar op Donderdag 3 Oktober by Monte Bello buite Bloemfontein plaas.
Die voormalige Protea-netbalspeler Vanes-Mari du Toit is die gasvrou en aanbieder van die glansgeleentheid, en die rugbyskeidsregter Jaco Peyper is die gasspreker.
Peyper (43), wat vroeër vanjaar sy uittrede as skeidsregter op die wêreldrugby-verhoog aangekondig het, sê gesellighede soos hierdie is belangrik omdat dit erkenning gee aan sportlui vir hul harde werk.
Die erkenning dien as dryfveer wat hulle motiveer, nie net die sportsterre self nie, maar elkeen wat hulle help om hul prestasies te bereik.
“Dit is ook uiters belangrik om weer te besef hoeveel fantastiese sportsterre in sentraal-Suid-Afrika gekweek word,” meen hy.
“Ons moet vir die land wys watter goeie teelaarde ons is vir sportmanne en -vroue van wêreldgehalte wat dag ná dag deur ons skole, universiteite en sportklubs voortgebring word.”
Peyper sê hy sien daarna uit om as gasspreker die gehoor toe te spreek.
“Dit is ’n groot voorreg om as gasspreker genooi te word. Die afgelope jaar het ’n mens perspektief gegee oor wat in die sportwêreld aangaan, en ek sien uit om daaroor te gesels.”
Die glansgeleentheid word in samewerking met KovsieSport van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied.
Hou Sentraal24 se gemeenskapskoerante in die Vrystaat – Bloemnuus, Express, Vistaen VrystaatKroon – dop vir meer inligting oor vanjaar se benoemings en ander inligting oor die glansaand.
- Die glansaand se verrigtinge begin om 18:00 vir 18:30. Die kaartjies kos R460 vir ’n enkelkaartjie, of R4 600 vir ’n tafel van tien.
Om plek te bespreek of om meer inligting te bekom, bel Ainslee Oosthuyen by 074-120-4450 of stuur ’n e-pos aan ainslee@spottedapple.co.za.