Bek-en-klouseer se verbod knou boere

Van wolboere tot leeuplase word deur die uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Vrystaat geraak.


Van wolboere tot leeuplase word deur die uitbreking van bek-en-klouseer in die Oos-Vrystaat geraak.

Twee kwarantyngebiede, een by Marquard en een by Lindley, is onlangs afgekondig nadat bek-en-klouseer in dié twee gebiede bevestig is.

“Ons is nie almal groot boere nie en verkoop maandeliks vee om ons lopende uitgawes te dek,” sê Dewald Labuschagne, wie se plaas in die kwarantyn­gebied by Marquard val.

Hy sê pleks daarvan dat hy nou sy lammers verkoop, moet hy ten duurste vir hulle kos koop.

“Ek sou nou my beeste verskuif na mielielande wat gestroop is, maar omdat dit in ’n ander gebied is, mag ek nie.”

Labuschagne sê hy het blesbokke reeds aan iemand verkoop, maar hy kan nou nie die wild aan die koper lewer nie.

“Hier is ’n stoetboer wie se bulle positief vir die virus getoets is. Hy kan nie sy bulle verkoop nie. Hoe staan jy weer op as so iets gebeur?” vra Labuschagne.

Leeuboere wat beeskarkasse by ’n plaaslike voerkraal kry, sit ook met ’n probleem.

“Iemand gaan haal daagliks karkasse van die beeste wat in die voerkraal vrek en lewer dit aan leeuplase in die Oos-Vrystaat,” sê Labuschagne, wat self leeus besit.

Weens die maatreëls mag die persoon nie die karkasse vervoer nie en dus moet leeuboere op ander plekke vleis koop.

Four Paws se Lionsrock Big Cat Sanctuary by Bethlehem, waar grootkatspesies hervestig word, maak ook staat op karkasse uit die voerkraal.

Elize Parker, woordvoerder van Four Paws, sê die toevlugsoord het vroegtydig begin om karkasse uit Gauteng te koop.

“Aangesien daar verkoelingsgeriewe by die toevlugsoord is, is daar ook voorsiening gemaak sou die situasie vererger.”

Sy sê die oord pas die nodige maatreëls toe sodat wildsbokke op die plaas teen die virus beskerm word.

Die landboumaatskappy OVK sê in ’n plasing op sy Facebook-blad dat die Chinese regering nog nie gereageer het op ’n versoek van die Suid-Afrikaanse regering om die verbod op wol op te hef nie.

Hoewel Suid-Afrika wol vir die voorgeskrewe tydsduur teen die regte temperatuur berg om te verseker dat bek-en-klouseer nie versprei nie, het China invoer uit die land verbied.

Die OVK het produsente gewaarsku dat die wol wat môre op die eerste veiling van die seisoen aangebied sal word tot 7 000 bale beperk word.

OVK sê wolpryse gaan onder druk wees en dat baie wol nie verkoop sal word nie sou die Chinese verbod geldig bly.

Dit sal weer beteken makelaars gaan onder druk wees om groot hoeveelhede onverkoopte wol te hanteer.

You need to be Logged In to leave a comment.