KROONSTAD. Elzabé Rockman, LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, saam met Jabu Mbalula, die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, het Kroonstad besoek en ‘n vergadering met plaaslike boere oor die bek-en-klouseer-krisis in die Vrystaat belê.
Die vergadering het op Woensdag 10 September in die Allan Rautenbach-saal van die Moqhaka-munisipaliteit plaasgevind.
Boere vanuit die verskeie gemeenskappe het die vergadering bygewoon om die pad voorentoe te bespreek.

Dr. Kristan Mojapelo, direkteur van veeartsenykundige dienste aan die departement van landbou, het bevestig dat gevalle van bek-en-klouseer in Limpopo, Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal aangemeld is. Hy bevestig dat die oordrag van bek-en-klouseer hoofsaaklik plaasvind wanneer diere oor provinsiale grense heen geskuif word.
Die eerste voorval in die Vrystaat is begin Julie aangemeld, en tans is daar 17 bevestigde gevalle.
Mojapelo het gesê diere word daagliks deur die betrokke departmente getoets en ingeënt om die siekte te probeer hokslaan.
Vrystaatse gevalle is in Kroonstad, Viljoenskroon, Cornelia en Frankfort, asook Deneysville, aangemeld – met nuwe gevalle in ander gebiede wat deur die departement ondersoek word.
Bek-en-klouseer is ‘n hoogs aansteeklike en soms noodlottige virussiekte wat beeste, varke, wildsbokke, bokke, skape en ander diere met gesplete hoewe kan opdoen. Die virus word hoofsaaklik oorgedra deur direkte kontak met besmette diere, besmette stalle, of voertuie wat vir die vervoer van lewende hawe gebruik word.
Op die vergadering is boere die geleentheid gegee om vrae te vra en hul kommer oor die siekte te deel.
Kwellinge oor loslopende vee in woonbuurte is geopper, asook hoe dié diere die siekte moontlik kan versprei. Daar is ook gevra waarom Kroonstad nie oor ‘n geskikte diereskut beskik nie.
Voorstelle het ingesluit dat voertuie wat vee vervoer, voortdurend ontsmet moet word; ook dat padversperrings gehou word om die vervoer van diere te beperk, onder baie streng biosekuriteitsmaatreëls.
Beheermaatreëls sluit in die inenting van diere, voortgesette naspeurondersoeke om die bron en moontlike verspreiding van die siekte te bepaal en dat plase binne ‘n radius van 10km voortdurend gemoniteer word.
Betrokkenes soos die polisie en verkeersafdelings is genader om bystand aan die departement van landbou te bied om die verspreiding van die siekte te beperk.

Boere wat nie Sotho magtig is nie het later die vergadering verlaat toe die uitvoerende burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit, Motloheloa Mokatsane, die vergadering net in Sotho begin lei. Raadslid Spaski Geldenhuis het Mokatsane daarop attent gemaak om almal te respekteer en vrae in Engels te beantwoord.
Mokatsane het toe verduidelik dat daar wel ‘n plaas vir die loslopende diere in die dorp deur die munisipaliteit beskikbaar gemaak is. Die grond sal in gebruik geneem kan word sodra die munisipaliteit boorgate gesink het vir water.
- VrystaatKroon het aan die departement van landbou navrae gerig oor die uitkoms van die vergadering om uit te vind of daar alternatiewe voorsorgmatreëls in plek gestel is en of daar nuwe gevalle aangemeld is. Terugvoering word steeds ingewag.



You must be logged in to post a comment.