Bejaarde van Kroonstad in huis gevind, hamer glo moordwapen

Skokgolwe het deur die Kroonstad-gemeenskap getrek ná die grusame moord op ‘n bekende en geliefde inwoner van dié dorp.


Skokgolwe het deur die Kroonstad-gemeenskap getrek ná die grusame moord op ‘n bekende en geliefde inwoner van dié dorp.

Johan Botha (78), ‘n inwoner van Wilgenhof, Kroonstad is op Maandag (03/07) in sy woning in Bormanstraat in ‘n plas bloed met diep kopwonde gevind.

Dit volg na sy bure ondersoek gaan instel het, toe ‘n vriend van Botha van Kaapstad hom nie telefonies kon bereik nie.

Die persone het opgemerk dat die skuifdeur oopstaan en die veiligheidshek was oopgebreek. Die huis was omgekrap en Botha is met erge kopwonde op die bank gevind. ’n Hamer, wat vermoedelik die moordwapen was, is langs hom gevind. Die owerhede is ontbied en Botha is op die toneel dood verklaar.

Sarita Sadler van Kroonstad, wat die Botha’s persoonlik geken het, sê dat dit ‘n geweldige skok vir haar en die gemeenskap is. “Ek sal Oom Gif altyd onthou as ‘n vriendelike man wat graag grappies gemaak het. Hy het gereeld saam met ons by die gholfklub gekuier en almal daar gaan hom verseker mis.”

Die polisie ondersoek ‘n saak van moord en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand wat inligting het rakende die moord word versoek om Sers. Moakhi Ramokhothoane van die Kroonstad-speurtak te bel op 084-7120654 of 08600 -10111.

Botha se vrou, Marita Botha, is verlede jaar oorlede. Hy word oorleef deur sy seun, Dries (43) van Kaapstad, ’n dogter Jorita (45), wat in London woon en sy suster, Laurita Blignaut wat om die beurt in Kaapstad en Frankryk woon.

Begrafnisreëlings sal later bevestig word.

You need to be Logged In to leave a comment.