Begroting vol belofte

Die LUR vir polisie, paaie en vervoer, William Bulwane, het in die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein gesê kontrakteurs is vir die 2022-’23-boekjaar aangestel om met herstelwerk te begin.


Die LUR vir polisie, paaie en vervoer, William Bulwane, het in die Vrystaatse wetgewer in Bloemfontein gesê kontrakteurs is vir die 2022-’23-boekjaar aangestel om met herstelwerk te begin.

Die haglike toestand van Vrystaatse paaie is deur swaar reën en verspoelings vererger, soos in die geval van die R711 tussen Clarens en Fouriesburg wat nou gesluit is.

“Projekte en herstelwerk sal so spoedig moontik begin,” het Bulwane gesê.

Vir die 2022-’23-boekjaar is begroot vir die herstel of voltooiing van paaie oor die provinsie heen. Kontrakteurs is aangestel om aan die Reitz-Tweeling-, Tweeling-Frankfort-, Dewetsdorp-Wepener-, Schonkenville-Koppies- en Jim Fouché-Deneysville-pad herstelwerk te doen. Boonop is R2 miljoen vir die Warden-pad begroot. Herstelwerk is reeds aan die Kroonstad-Viljoenskroon-, Ventersburg-Senekal- en Kroonstad-Steynsrus-pad gedoen. Werk aan die Ventersburg-Senekal-pad behoort teen einde Mei klaar te wees.

Kontrakteurs sal binnekort aangestel word om die pad van Kroonstad na Hennenman en Virginia te herstel.

Die departement beskou die R26 van Bethlehem na Ficksburg en die R70 van Ficksburg na Ladybrand as voorkeur­paaie. Daar is ook begroot om beskadigde en verspoelde gruis- en plaaspaaie te herstel. Die algehele begroting beloop R2,793 miljard.

Opleiding sal glo as ’n voorkeursaak beskou word. Weens die swak gehalte van werk wat reeds gedoen is, sal kontrakteur-ontwik­kelingsprogramme (CDP) uitfaseer word.

You need to be Logged In to leave a comment.