Dit is nog nooit in die hooggeregshof in Bloemfontein so beskryf nie, maar veediefstal in die Vrystaat is ’n georganiseerde misdaad. Dit word deur sindikate bedryf en verliese beloop tot R3 miljard per jaar.
Só het dr. Jane Buys, risiko- en veiligheidsontleder van Vrystaat Landbou (VL), op die beraad van die Alliance of South Africa (AoSA) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein gesê.
Veiligheid in gemeenskappe was die tema op die tweede dag van die beraad.
Buys het gesê daar sal op ’n geïntegreerde manier te werk gegaan moet word, en samewerking met private sekerheidsfirmas, boereverenigings, buurtwagte, AfriForum en Saai is noodsaaklik om veediefstal die hoof te bied.
“ ’n Private veiligheidsfirma met 40 motors het reeds hulp aangebied.
“Boere werk taamlik goed met die misdaadintelligensie van die polisie saam. Daar is ook ’n private laboratorium in Kaapstad wat geakkrediteer is om DNS-toetse te kan doen en met wie boere nou saamwerk.”
Volgens Buys sê die polisie dikwels dat hulle nie die kapasiteit het wat betref mannekrag en voertuie nie.
“As elke plattelandse polisiekantoor net een of twee toegewyde polisielede vir veediefstal kan aanstel, sal dit baie help.
“R3 miljard se veeverliese weens diefstal in die Vrystaat is nie min nie.
“Baie geweldsmisdade word ook by veral die polisiekantore in Bainsvlei, Bloemspruit en Navalsig aangemeld. Daar is in baie gevalle ’n duidelike verband tussen plaasaanvalle, plaasmoorde en veediefstal. Veediefstal speel in tussen 14% en 19% van die gevalle ’n rol.
“Van 50 tot 150 boere in die Vrystaat hou jaarliks op boer weens plaasaanvalle.
“Meer as die helfte van alle veeverliese in die Vrystaat word nie aangemeld nie.”
Buys sê lede van die sindikate wat vee steel, is meestal opgeleide misdadigers wat op die boere en polisie skiet – daarom kan dit as deel van georganiseerde misdaad beskou word.
“Die onwettige jag met honde veroorsaak groot skade en die verliese beloop sowat R10 miljoen per jaar omdat draadheinings dikwels ook geknip word.
“Die Lesotho-grens bly ’n probleem en 23% tot 35% van Vrystaatse plaasaanvalle kom in die omgewing van die 13 dorpe langs die grens voor,” het sy gesê.