Beampte in hof vir aanranding

’n Polisielid van Ficksburg se aansoek om borgtog is Vrydag (18/02) in die plaaslike landdroshof uitgestel.


’n Polisielid van Ficksburg se aansoek om borgtog is Vrydag (18/02) in die plaaslike landdroshof uitgestel.

Die 42-jarige man het glo sy 44-jarige vrou aangerand omdat sy hom nie ’n gelukkige Valentynsdag toegewens het nie. Hy het haar glo in hul huis in Meqheleng toegesluit, maar sy kon daarin slaag om die voorval by die polisie aan te meld.

Die beskuldigde is op Dinsdag 15 Februarie aangekeer.

Volgens Grace Langa, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoek­direktoraat, het die polisielid sy vrou op Maandag 14 Februarie omstreeks 22:00 gebel terwyl sy by die huis was.

Hy het na bewering ’n argument begin omdat sy nie vir hom ’n gelukkige Valentynsdag toegewens het nie, waarop sy gesê het sy was die dag besig by die werk. Hy het toe afgelui.

Toe hy Dinsdag omstreeks 17:00 by die huis kom, het hy na bewering weer met haar gestry omdat sy nie vir hom ’n Valentynsdag-boodskap op haar Whats­App-status geplaas het nie.

Hy het glo aggressief geraak, die simkaarte uit albei haar selfone gehaal en die fone gevat omdat hy dit “met sy geld gekoop het”.

“Hulle het aanhou stry en die beskuldigde het aggressiewer geraak en die klaer aangerand,” sê Langa.

“Sy het geval en haar been gebreek. Hy het haar toe in die huis toegesluit.”

Sy het by die motorhuisdeur uitgekom en ’n saak by die polisie aangemeld. Sy is daarna na ’n hospitaal gebring.

  • Die aansoek om borgtog is tot môre (24/02) uitgestel om meer inligting te bekom.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.