‘n Barmhartige Samaritaan van Bethlehem, wat daarna streef om ‘n verskil in behoeftiges se lewens te maak, kon reeds met die hulp van die Bethlehem-gemeenskap, ‘n behoeftige gesin asook ‘n tehuis van nie-bederfbare kos voorsien.
Die 37-jarige Willie Ebertsohn sê dit lê hom na aan die hart om in sy gemeenskap op die manier ‘n verskil in mense se lewens te maak.
“Ek het by Justice Scott van die organisasie ChangeNetSA aangeklop om ‘n gesin te identifiseer wat behoeftig is en aan wie ek nie-bederfbare kruideniersware kon skenk,” sê Ebertsohn
Hy het ook sakeondernemings en die publiek genader om bydraes te maak vir die projek.
Ebertsohn sê die skenkings was meer as genoeg om ook vir die Kosmos-tehuis vir bejaardes in Kestell ‘n skenking te gee.
“Hulle het kruideniersware ontvang wat hulle ten minste vir die volgende drie maande behoort te help.”
In sy eerste poging om kos vir die projek in te samel is Ebertsohn insamewerking met ‘n sekuriteitsfirma op die dorp geboei en in “hegtenis” geneem. Hy is toe buite Dericks Spar in Bethlehem aangehou, waar hy persone wat inkopies kom doen het, aangemoedig het om ‘n bydra te maak vir die projek.
“Ek wil hiermee vir elke persoon en sakeonderneming wat die projek ondersteun het, opreg bedank, want sonder julle hulp sou ons nie ‘n verskil kon maak nie.”
Ebertsohn sê dit was maar net die begin van vele projekte wat hy graag van stapel wil stuur om ‘n verskil in mense se lewens te maak. Insamewerking met ChangeNetSA beoog hulle om nog projekte aan te pak en wil graag minderbevoorregte kinders op ‘n plaasuitstappie neem.
Hy sê mense wat betrokke wil raak of meer wil weet oor sy volgende projek, kan sy sosiale media dophou.