Bakkies, helder haarkleure deel van pret

Die NG kerk Kroonstad-Oos het onlangs ’n vol program vir die gemeenskap aangebied.


Die NG kerk Kroonstad-Oos het onlangs ’n vol program vir die gemeenskap aangebied.

Op Vrydagaand 12 April is ’n vol saal belangstellendes getrek met die komiese vertoning van die gewilde Magda Louw, wat deur aktrise Desiré Gardner vertolk word. Die vertoning is deur besoekers van Welkom, Edenville en Steynrus ondersteun.

“ ’n Ooreenkoms is deur my en die kerkraad met die gemeente aangegaan,” sê ds. Marius Barnard.

“Sou die gemeente al die kaartjies vir die Magda Louw-vertoning verkoop, sou ek en die kerkraad ons hare pienk kleur vir Sondag se erediens. Al die kaartjies is uitverkoop, en ons moes Sondag die diens met pienk hare bywoon.”

Op Saterdag 13 April was dit die kerk se basaar, waar die eerste wys-jou-bakkie-saamtrek aangebied is. Op dié geleentheid kon bakkie-eienaars met hul voertuie spog.

Altesaam 39 inskrywings is ontvang, en dit is die spoggerige rooi bakkie van Beneric Bothma van Kroonstad wat as die wenner op die saamtrek gekroon is.

Die beoordeling is deur Barnard en Ronnie de Lange behartig.

’n Paar veteraanmotors en motorfietse is ook vir basaargangers uitgestal.

Barnard sê die basaar was ’n sukses, en almal het van vroegoggend tot die middag saamgekuier.

“Inderdaad ’n wonderlike en baie geseënde naweek, en ons is dankbaar,” is hoe hy die bedrywighede beskryf.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.