Een oggend terwyl ek haastig op pad uit is, reeds laat, trek iets in ’n donker hoekie van my motorhuis my aandag. Die entoesias in my raak opgewonde en ek moet eers ’n oomblik daaraan afstaan om te kyk wat dit is wat daar beweeg; en daar sit sy, my bruin knopiespinnekop (Latrodectus geometricus).
Ek sê myne, want of jy dit wil glo of nie, ek het haar dadelik aangeneem. Ek het onmiddellik seker gemaak sy is veilig, dat sy nie op ’n plek sit waar sy gaan seerkry nie, en sedertdien kyk ek deurentyd of sy darem iets het om te eet.
Ons noem haar die bruin knopiespinnekop, hoewel dié spinnekoppe van byna wit tot amper swart, met ’n reeks skakerings van bruin tussenin, wissel in kleur. Hulle is ook bekend vir die uurglasvormige merk aan hul agterlyf.
My spinnekop is, mooi soos sy vir my is, gevrees onder die mensdom. Sy lyk baie na haar Amerikaanse niggie, die berugte “black widow” – wat nie verwar moet word met die Suid-Afrikaanse swart knopiespinnekop, die “black button”, nie – en as jy nie van beter weet nie sal jy sê hulle is een en dieselfde.
Sy is wel ook giftig en daar is mediese nagevolge, meestal beperk, sou sy jou byt. Die bruin knopiespinnekop se byt kan vir kinders, mense van ’n gevorderde ouderdom en diegene met onderliggende siektetoestande ’n bedreiging inhou.
Wanneer iemand gebyt word, is dit belangrik om die bytplek altyd skoon te hou, om nie te krap nie en om jou huisdokter te raadpleeg sou die wond ontsteek.
Daar is egter ander aspekte van dié knopiespinnekop om te leer ken, sou jy jouself die geleentheid gee om aan haar gewoond te raak.
Ek gaan nie jok en sê sy is so netjies soos van ons ander spinagtiges nie, maar sy is skoon. Deurmekaar soos haar web dalk vir ons lyk, word dit skoongehou en vuilgoed soos stukkies blaar of gras word noukeurig verwyder. Nadat al die vuilgoed weggegooi is, sal sy die web heelmaak waar nodig.
Dit is ook ’n baie skaam en versigtige spinnekop, wat maklik skrik as ’n mens aan die sysnare van haar web raak. Sy sal wegskarrel om skuiling te soek dieper in die doolhof wat sy haar huis noem. Daardie ding wat jou ouma altyd gesê het, “hy’s banger vir jou, as jy vir hom”, is heeltemal waar.
Wat baie interessant van haar toksiokologie is, is dat sy vir die “black widow” ’n groter bedreiging inhou as vir ons, terwyl die “black widow” vir die mens weer ’n groter bedreiging inhou as vir die bruin knopiespinnekop. Soveel so dat van die state van Amerika die Suid-Afrikaanse bruin knopiespinnekop begin invoer het om die “black widow” populasie in bewoonde areas onder beheer te bring.