BackaBuddy-veldtog: Kroonstadter verloor been weens siekte, stryd vir mediese sorg duur voort

’n Bekende inwoner van Kroonstad moes ’n nood voet- en been-amputasie ondergaan om sodoende sy lewe te red.


‘n Bekende inwoner van Kroonstad moes ’n nood voet- en been-amputasie ondergaan om sodoende sy lewe te red.

Die 55-jarige Tiaan Wessels, ‘n wildvanger van Kroonstad, wat ‘n diabeet is, se voet en been is op Vrydag 2 Augustus by die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein geamputeer.

Dit volg nadat Wessels se gesondheid drasties agteruit gegaan het weens infeksie en sy liggaam wat teen die herstel geveg het.

Ongeveer drie weke gelede het ‘n seer onder sy voet weens diabetes hom siek gemaak, en moes die dokters ‘n gedeelte van sy voet uitsny.

Sy hoë suikervlakke het infeksie veroorsaak. Wessels het in ’n toestand van ketoasidose verkeer, wat gelei het tot ‘n uiters swak immuunstelsel en hy was konstant naar. Dit het hom verhinder om te eet, wat noodsaaklik is om sy bloedsuikervlakke te stabiliseer.

Wessels is ná ‘n baie ernstige ongeluk in 2006, met tipe 2-diabetes gediagnoseer. In dié ongeluk het hy amper sy linkerbeen verloor, wat nou geamputeer is. Ná die ongeluk het hy met verskeie gesondheidsuitdagings gesukkel.

Wessels beskik nie oor ‘n mediesefonds nie. Die koste van voortgesette hospitalisering, ’n geskikte versorgingseenheid, rehabilitasie en prostetiese been beloop ’n geweldige bedrag geld en plaas baie finansiële druk op hom en sy familie.

Die familie wil dus ‘n pleidooi lewer aan die gemeenskap, kennisse, vriende en familie om hulle deur middel van die BackaBuddy-fonds op Facebook te ondersteun “Ons is opreg dankbaar vir elke persoon wat reeds ‘n bydrae kon maak,” sê sy dogter, Cézanne Wessels.

Wessels is getroud met Izeth en het drie kinders: Stian Wessels wat veeartsenykunde aan die Onderstepoort- veeartsenykundige akademiese hospitaal van die Universiteit van Pretoria (UP) studeer; Cézanne wat ’n finale jaar B.com Ondernemingsbestuur-student aan die UP is; en Tiané Wessel, ’n gr. 9-leerling aan die Hoërskool Trio in Kroonstad.

Om ’n bydrae te maak, besoek die Tiaan Wessels BackaBuddy-veldtog op Facebook of kontak vir Cézanne op 071-632-0522.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.