Die Hoërskool Salomon Senekal in Viljoenskroon het aan die begin van September ’n hamergooi-akademie begin, en aan die einde van die maand is ’n splinternuwe hamergooi-sirkel by die skool geopen.
Op dié geleentheid op 28 September is die lint deur Tshepang Makhethe, die huidige nasionale hamergooi-kampioen in die afdeling vir senior mans, geknip.
Hierna het Makhethe die openingsgooie gegooi saam met Derek Groenewald en Marizelle Geyser, die skool se nasionale hamergooi-atlete.
“Die doel is om die skool se hamergooi-atlete ’n voorsprong te gee, in die eerste plek danksy die vroeë identifisering van talent, en hulle dan betyds te begin voorberei deur middel van spesialis- asook skoolgebaseerde afrigting,” sê Benton Nortman, skoolhoof.
’n Groep van 22 leerlinge is in hierdie stadium by die akademie betrokke, en die atlete oefen twee keer per week.
Hulle het reeds ’n kliniek van drie dae bygewoon om hul vaardighede en tegnieke in dié sportsoort vir die komende atletiekseisoen op te skerp.
Die openingsgeleentheid is deur atlete, ouers, afrigters, beheerliggaamslede en die verteenwoordigers van borge bygewoon.