’n Bekende 77-jarige meestersatleet van Kroonstad het op die nasionale kampioenskapsbyeenkoms skoonskip gemaak.
Op dié byeenkoms, wat van 5 tot 7 Mei in die Pilditch-stadion in Pretoria aangebied is, het Bobby de Kock ’n goue medalje in die 100 m- en 200 m-naelloop, 400 m-, 800 m-, 1 500 m- en 5 000 m-wedloop en die 2 000 m-hindernis verwerf.
“Dit was weer ’n wonderlike geleentheid en ek wil almal bedank vir hul moeite en ondersteuning,” sê De Kock.
“Dan, groot dank aan ons Hemelse Vader wat my toelaat om aan atletiek deel te neem.”
Sy atletiekseisoen is puik begin by die Gauteng-Noord- en Sentraal-Gauteng- meestersbyeenkoms, waar hy ook goud in al sy nommers behaal het.
Benewens sy normale oefenprogram by die Kroonstad-multisportklub neem hy graag aan die dorp se weeklikse parkrun-geleentheid deel.