Twee langasems van Bethlehem het hul teenstanders in die uitmergelende Hour Endurance Challenge laat les opsê.
Daleen Cilliers (43) en Henno Malan (50) het dié uitdaging, wat van 30 April tot 2 Mei buite Pretoria plaasgevind het, kafgedraf.
Albei is lede van die Maluti-multisportklub in Bethlehem.
Cilliers het die eerste plek behaal en die trofee ontvang vir die vrou wat die langste op haar voete gebly het. I
n 61 uur het sy bykans 250 km gedraf.
Malan, die man wat die langste op sy voete was, het in 31 uur bykans 160 km afgelê.
Deelneemers het om die uur elk 4,2 km gehardloop en moes tussendeur eet en rus.
Hulle het bedags en snags aan die uitdaging deelgeneem en kon met die lui van ’n klok aandui indien hulle nie met die uitdaging wou voortgaan nie.
“Dit was absoluut ’n ongelooflike ervaring, en nooit weer sal ek dieselfde na ’n uur kyk nie,” sê Cilliers.
“Ek is baie dankbaar vir die 31 uur van die 61 wat ek saam met Hanno kon hardloop. Dit was lekker om dit saam aan te pak, veral omdat dit so ’n taai uitdaging was.”
Die uitdaging toets deelnemers se uithouvermoë – dit gaan nie soseer oor wie die vinnigste is nie, maar eerder oor wie die meeste deursettingsvermoë het.
Vanjaar het 250 fikses aan dié uitdaging deelgeneem.