As die lewe druk, kyk gerus om jou rond

Ek staan by ’n kettingwinkel in die ry om te betaal en luister noodgedwonge na die gesprekke om my.


Ek staan by ’n kettingwinkel in die ry om te betaal en luister noodgedwonge na die gesprekke om my.

Die vrou voor my bekla haar lot aan ’n ander en sê sy verstaan eenvoudig nie die moeilike tye waarin ons onsself bevind nie. Sy kan nie glo hoe duur basiese kruideniersware, net die daaglikse benodigdhede, geword het nie. Aan my linkerkant hoor ek iemand sê dat R1 000 se kruideniersware met die hand, in drie sakkies, gedra kan word.

Ek kyk stip voor my en maak asof ek nie hoor nie, hoewel die klant langs my in my rigting kyk en praat so asof ek moet saamstem en sy stelling moet bevestig.

Ek kan saamstem, maar dit maak my mismoedig en ek besluit om net nie te reageer nie. Boonop is dit amper einde Julie, en die koue en ellendige wintermaande dra ook nie by tot ’n opgeruimde gemoed nie. Daarom bepaal ek my maar by my eie gedagtes so tussen almal se stories deur.

Ons predikant het onlangs in ’n preek gesê in die lewe, waar alles deurmekaar en soms oorweldigend is, moet ons onsself tot stilstand dwing sodat ons geestelike, emosionele en fisieke welstand in lyn kan kom.

Deur stil te staan, sal jy weer jou balans vind X wat soms baie moeilik is vir my.

Indien jy ook soos die meeste van ons mismoedig voel, hoop ek dat jy beter voel sodra jy besef ons almal roei ’n bootjie met unieke uitdagings en ons voel almal die druk van die tye.

Die raad vanaf die kerk was om met jou predikant, sielkundige, raadgewer, vertroueling, familie en vriende te praat om die las ligter te maak. Oefen en leef ook gesonder, dit maak ’n groot verskil en sal die balans vinniger herstel.

Skuldig gaan staan ek voor by die kassier om te betaal.

Hoewel ek na die stories om my geluister het, kon ek darem seker met ’n glimlag gereageer het en my nie doof vir my medemens gehou het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.