Verskeie sakeondernemings in Bethlehem het met die hulpverleningsorganisasie ChangeNetSA saamgespan om ’n projek te begin waarmee geld vir behoeftiges en nie-winsgewende organisasies ingesamel sal word.
Verskeie sakeondernemings oor Bethlehem heen spog met opvallende getrouheidsbokse (“loyalty boxes”).
“Dit word ingespan as deel van ChangeNetSA se Move 500-veldtog,” sê Justice Scott, wat aan die stuur van ChangeNetSA staan.
“Wanneer ’n kerk, skool of enige ander niewinsgewende organisasie hom by die projek aansluit, word ’n spesiale kode aan hom toegeken.
“Iemand wat by ’n deelnemende sakeonderneming die kode op hul aankoopstrokie skryf en in die houer plaas, staan die kans om ’n prys in ’n gelukstrekking te wen,” verduidelik hy.
Maandeliks word die geldbedrae op die strokies saamgetel, en ’n persentasie daarvan word daan ChangeNetSA oorbetaal, om dit weer in die gemeenskap terug te ploeg.
“Dit is ’n wen-wen-situasie vir almal: Deur van die getrouheidsprogram gebruik te maak gee jy terug aan die gemeenskap sonder om bykomende skenkings te doen.”
Ondernemings wat deelneem, is: Libri, die Village Square-apteek, Point S, Top Carpets, W. Fourie-rekenmeesters, Risco-korttermynversekering, House of Professional Consultants (HOPC), BethNet, RealNet-eiendomme, Le Roy en Riemland Groente.
“Die lys groei daagliks aan, en as ons elkeen ons deel doen en saamstaan, kan ons ’n gemeenskap genees,” sê Scott.