Alle oë op dorp se rioolkrisis

Die Viljoenskroon-tak van AfriForum het met die waarnemende bestuurder van die Moqhaka-munisipaliteit, adv. Mzwakhe Mofokeng, en betrokke munisipale amptenare oor die dorp se rioolkrisis vergader.


Die Viljoenskroon-tak van AfriForum het met die waarnemende bestuurder van die Moqhaka-munisipaliteit, adv. Mzwakhe Mofokeng, en betrokke munisipale amptenare oor die dorp se rioolkrisis vergader.

Inwoners sukkel al jare lank met rioolkwessies en die situasie vererger daagliks.

Mofokeng het dit laat blyk dat hy en betrokke amptenare die situasie dringend sal aanpak.

’n Ingenieur wat voorheen by die munisipaliteit werksaam was en die omstandighede ken, is aangestel om die situasie met sy kundigheid te verbeter. Verder is ’n vloot van agt bakkies vir die Departement van Water en Sanitasie aangekoop. Die voertuie sal slegs vir dienslewering benut word.

Noodsaaklike herstelwerk aan die rioolaanleg in Viljoenskroon is reeds begin, hoewel die rioolnetwerk nie die huidige bevolking kan bedien nie.

Kontrakteurs is aangestel om die verskeie pompstasies en die netwerk van pype van die dorp se riolering te onderhou en vervang waar nodig.

Van die pypleidings het heeltemal ineengestort.

Dat die grond met riool deurdrenk is, bemoeilik die werk, en dit het tot vertraging gelei omdat dit eers moet opdroog.

Intussen is poste geadverteer om die vakante betrekkings, soos dié vir passers en personeel wat die pompstasies kan beman, te vul.

Die munisipaliteit het onderneem dat daar teen einde Augustus ’n merkbare verskil aan die rioolsituasie in Viljoenskroon sal wees.

“AfriForum se Viljoenskroon-tak, wat verteenwoordigend is van die gemeenskap, is baie dankbaar dat daar daadwerklik iets aan hierdie haglike situasie gedoen word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Ons het ook die munisipale bestuurder gevra dat die terrein van die rioolaanleg netjies gemaak word, en om die werkers met toepaslike toerusting toe te rus.

“Ons sien uit daarna om die vordering dop te hou en is bly dat ons die saak op hierdie wyse kon hanteer.”

You need to be Logged In to leave a comment.