Ruiters van die Mooigelegen-ryskool, in die Bally Duff-omgewing by Bethlehem, het uitstekend gevaar in die Bethlehem-uithourit wat einde Maart aangebied is.
Vier ruiters van dié ryskool en hul afrigter spog elkeen met ’n eerste plek in hul afdeling.
Hanru Botes (14) het op sy perd Kabir as ’n junior deelnemer ’n eerste plek in die 40 km-nommer verwerf.
Hylet Ungerer (15) en haar perd Taayaana was eerste in die 80 km-nommer, ook in die junior afdeling.
Albei is leerlinge aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem.
Ilan Bester (12) het in die kinderafdeling met haar perd Veldman deelgeneem en het ’n eerste plek in die 40 km-nommer behaal. Sy is ’n leerling aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem.
In die senior afdeling het Carla Visagie (19) en haar perd Safia stof in hul teenstanders se oë geskop en met die eerste plek in die 40 km-nommer weggestap.
Liza Botes, dié vier ruiters se afrigter, en haar perd Soleil is in die liggewig-afdeling as die algehele wenner in die 80 km-nommer gekroon.
“Uithouritte verg baie tyd en oefening, en die ruiters is drie tot vier dae per week in die saal om fiks te bly en kilometers te kry,” sê Botes.
Die ruiters van Mooigelegen oefen weekliks as ’n groep saam.
Botes sê by die Mooigelegen-ryskool word ruiters van jongs af die basiese tegnieke geleer, en sy konsentreer op uithouritte vir die ruiters wat graag wil meeding.
Tans is 40 ruiters lede van die ryskool.
Botes, ’n provinsiale kampioen wat die Vrystaatspan al agt keer verteenwoordig het en al vier keer aan die nasionale kampioenskap deelgeneem het, gee die afgelope 19 jaar afrigting.