Ná 38 jaar in die onderwys sal die eerste uitvoerende hoof van die Hoërskool Trio in Kroonstad die tuig neerlê.

William Drinkwater (60), wat die afgelope tien jaar as skoolhoof van die Hoërskool Kroonstad gedien het, is sedert die samesmelting van die Hoërskool Kroonstad en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad die uitvoerende hoof van Trio.

Hy sal einde Januarie aftree.

“Dit was vir my ’n ongelooflike voorreg om van die geskiedkundige proses deel te wees,” sê hy.

“Die samesmelting was nie net tot voordeel van ons leerlinge nie, maar ook die breër gemeenskap van Kroonstad.”

Drinkwater het in Zeerust grootgeword, en ná matriek aan die Potchefstroomse Onderwyskollege studeer. Hoewel hy tydens diensplig sy onderwysdrome vir twee jaar opsy moes skuif, is hy kort daarna by die Laerskool Greytown in KwaZulu-Natal in sy eerste onderwyspos aangestel.

Deur die jare het hy verder studeer, en ’n BA-, BEd- en honneursgraad in onderwys verwerf.

Hy was ook aan die Krugerlaan-skool vir leerlinge met spesiale leerbehoeftes in Vereeniging verbonde voordat hy as departementshoof van die Destinata-skool in Meyerton, en later as adjunkhoof van die Jim van Tonderskool, aangestel is.

Sy passie vir die landbou is die eerste keer geprikkel toe hy die skoolhoofpos by die Morgenzon-landbou-akademie by Bethal aanvaar het.

“By Morgenzon het ons met ’n 100%-slaagsyfer gespog, en die skool was onder die tien topskole in Mpumalanga.”

In 2012 is hy as skoolhoof van die Hoërskool Kroonstad aangestel.

“Dit was ’n ongelooflike tien jaar. Ek het nie net met die leerlinge en personeel hegte bande gevorm nie, maar ook met die gemeenskap.”

Drinkwater was altesaam 19 jaar lank die koshuisvader by verskeie skole, en reken dié ondervinding het hom in sy beroep gebaat.

“Ek het vinnig geleer hoe om kinders op alle vlakke te verstaan, hanteer en ondersteun.”

Hy het atletiek, landloop en rugby afgerig. As jong onderwyser het hy dit baie geniet om saam met die kinders te oefen, maar ’n rugoperasie het hom later genoop om dié stukkie pret prys te gee.

In sy jonger dae het hy die Comrades-wedloop en destydse Argus-fietswedren voltooi, en ook in die Bergrivier- en Dozirivier-marathon geroei.

Deesdae vermaak Drinkwater homself graag met hengel, jag en houtwerk. Tog leef hy steeds sy liefde vir sport as rugbyondersteuner uit, en beskou homself as die grootste Blou Bul-aanhanger.

Sy vrou, Noeline, is ’n onderwyser aan die Johan Slabbert-skool in Kroonstad. Die egpaar het twee seuns, WL en André, en ’n dogter, Delaine Jordaan.

Hul drie kleinkinders is hul grootste trots. Drinkwater sal tussen Kroonstad en Stilbaai pendel totdat hul huis in dié kusdorpie vir hul aftrede gereed is. Wanneer sy vrou se werksverpligtinge afgehandel is, sal sy haar by hom aansluit.

You need to be Logged In to leave a comment.