Sy is klein en fyn, maar moenie Celdi de Bruin, ’n onderwyser aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem, onderskat wanneer dit by rugby kom nie.
De Bruin (31), ’n gebore Bethlehemiet, het haar laerskoolloopbaan juis aan dié skool voltooi voordat sy aan die Hoërskool Voortrekker gematrikuleer het. Daarna het sy haar BEd-graad in grondslagfase-onderrig aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus verwerf.
Sy is die afrigter, asook organiseerder, van die o.7-rugbyspan. Haar span het vanjaar ál 14 sy wedstryde gewen en is weer as die ligawenner aangewys – dié span is die afgelope twee jaar onoorwonne.
Sy beskou haarself as bevoorreg om terug te ploeg by haar alma mater.
De Bruin sê haar liefde vir dié sportsoort is gekweek deur haar pa, Japie van Wyk, wat ’n kranige rugbyspeler was en tans as die president van die Oos-Vrystaat se senior rugby en ook as adjunkpresident in die Griffon-rugbyunie dien.
“Dit was deel van ons gesin se roetine om op koue wintersaande saam met my pa rugbyoefeninge en -wedstryde by te woon. Dit het baie ongewoon gevoel wanneer ons nie ’n wedstryd of oefening bygewoon het nie,” vertel sy.
De Bruin het in 2015 met rugby-afrigting begin en het haar pa as mentor genader.
“Ná agt jaar se afrigting het ek besef dat dankbaarheid en diensbaarheid twee woorde is wat baie gewig dra.
“Ek is bevoorreg om met sulke ongelooflike kinders te kan werk en die liefde vir rugby by hulle te kweek. Ek is ook opreg dankbaar vir hul ouers wat my en hul kinders 100% ondersteun en ons belange op die hart dra.
“Dié samewerking is beslis die sleutel tot ons suksesverhaal.”
De Bruin sê haar hoofdoel is om ’n liefde vir die spel te kweek by elke seuntjie wat sy afrig. Sy reken as sy dit kan regkry, slaag sy in haar doel as afrigter – en is sy baie tevrede ongeag of ’n sege of ’n nederlaag op die veld ervaar word.
Sy sê dat dit baie beplanning, inspanning en geduld verg om die regte grondslag by elke speler te lê, en dat sy self baie by die kinders leer.
Vanjaar het De Bruin die voormalige Springbokrugbyspeler Bismarck du Plessis se tweelingseuns, Francois en Gideon, afgerig.
“Ek moes groot skoene vol staan met die gedagte dat dié twee manne se pa ’n Springbokrugbyspeler is.”
Benewens die puik prestasie van De Bruin se span het Truida Kestell in die algemeen ’n buitengewone rugbyseisoen beleef. Die skool het vanjaar vyf o.7-rugbyspanne – ’n eerste in die skool se geskiedenis.