Aanvallers nog soek

Nog niemand is in hegtenis geneem ná die aanval op Sakkie Bell, ’n boer in die Bethlehem-distrik, nie.


Bell (67), van die plaas Fairview buite Bethlehem, is Sondagoggend (20/11) deur vermoedelik twee vermeende rowers oorval en aangerand. Deidré Bell, sy dogter, sê haar pa sterk aan in die Mediclinic Hoogland in Bethlehem en is stabiel.

Hy word vir kopbeserings, harsingskudding, ’n skedelbeenkraak en ’n skouerbesering behandel. Bell was Sondag omstreeks 11:30 by die varkhokke op sy plaas om ’n vark wat uit die hokke gekom het terug te jaag, toe hy van agter af oorval is. Die aanvallers het ’n kombers oor sy kop gegooi sy arms vasgebind, waarna hulle hom gruwelik aangerand het. ’n Bebloede Bell is in die varkhokke agtergelaat terwyl die aanvallers die huis binne is. Hulle het vuur­wapens, sy selfoon en ’n bos sleutels, met onder meer huis- en bakkiesleutels aan, gebuit.Netwerk24 het vroeër berig dat Marie du Plessis, Bell se verloofde, dankbaar is hy leef ná die afgryslike aanranding. Sy en haar broer, Fanie Pretorius, was in Bethlehem vir inkopies toe Bell op die plaas aangeval is.

 “Die rowers het ook sy skoene gevat, maar ander waardevolle artikels in die huis gelos,” sê sy.Toe sy en haar broer by die huis kom, het die deur net op ’n skrefie oopgestaan, terwyl dit gewoonlik heeltemal oop is. Pretorius het gesien die kluis is oop en daar lê patrone op die mat. “Ek het geweet hier is groot fout en het na Sakkie in die huis begin soek, maar kon hom nie kry nie,” het Du Plessis vertel. “Ek  is  toe  uit  en het hom geroep en gebel, maar hy het nie sy telefoon beantwoord nie.”Du Plessis het die buurtwag om hulp gebel.Die polisie, sekuriteits­firmas en die buurwag het die omliggende plaasgeboue deurgesoek.

“Die polisie het oom Sakkie gekry,” het Johan Steyn, AfriForum se buurwagvoorsitter vir veiligheid in Bethlehem, gesê. Op die sosiale media het dit gegons oor die aanval en die Petrus Phakamile Sitho, aktivis teen plaasmoorde, het Bell in die hospitaal besoek. Só het Bell op video sy weergawe van die aanval vertel. Hy het genoem dat een van die aanvallers ’n kombers om sy lyf gehad het, maar dat hy egter nie veel kon sien nie omdat hy van agter af oorval is. 

Daar is ook ’n video in die varkhokke gemaak waar die aanval plaasgevind het en Deidré die verloop van die nare gebeure weergegee het soos sy dit verstaan. Sitho het weer ’n beroep op die owerhede gedoen om in te gryp sodat plaasmoorde stopgesit kan word. 

You need to be Logged In to leave a comment.