Aanstelling by skool ’n aanwins

Corneels Schabort, ’n oudleerling van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, sal hom van Januarie 2023 af as onderwyser by sy alma mater aansluit.


Corneels Schabort, ’n oudleerling van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, sal hom van Januarie 2023 af as onderwyser by sy alma mater aansluit.

Schabort, ’n dosent aan die Noordwes-Universiteit, beskik oor verskeie kwalifikasies, wat grade in onder meer chemiese ingenieurswese en teologie insluit.

Hy studeer om sy nagraadse onderwys­sertifikaat te verwerf en het hom vir die honneurs­kursus in onderwysbestuur en leierskap ingeskryf.

“Ons is besonder opgewonde om hierdie soort kundigheid tot ons personeelkorps te mag voeg,” sê Hannes Oosthuizen, hoof van die Hoërskool Witteberg.

Schabort word aangestel om in hoofsaaklik wiskunde en fisiese wetenskap skool te hou, maar hy beskik ook oor kundigheid om verskeie ander vakke aan te bied.

Hy het boonop bekendheid verwerf vir die karakter- en leierskaps­ontwikkeling wat hy oor Suid-Afrika heen by verskeie skole aanbied.

Sy liefde vir debat en redenaarskuns sal ook tot die skool se ryke kultuurbedrywighede bydra.

“Dit is ’n groot voorreg om hom as oudleerling, vriend en nou ook as kollega welkom te heet.

“Sy opregte hart teenoor kinders en positiewe geaardheid is iets wat hom van ander onderskei,” sluit Oosthuizen af.

You need to be Logged In to leave a comment.