Die energie was in die hele Kroonstad tasbaar terwyl Bokkieweek verlede week hier plaasgevind het.
Mense het in hul massas saamgetrek. Hulle was gretig vir interaksie, goeie spel op die sportveld en samesyn. Dit was ’n joligheid van ’n ander aard, en almal was daar.
Die mensdom is uitgehonger vir saamwees en om sosiaal te verkeer.
Toeskouers van oor die land heen het die sportspanne goed ondersteun.
Die 2 758 rugby-, hokkie- en netbalspelers van 15 unies het groot opwinding en vermaak verseker.
Tussendeur die wedstryde en die Bokkiemark is Kroonstad in ’n miernes van bedrywighede omskep, wat ’n welkome geldelike inspuiting vir dié dorp en omgewing bied.
Dit terwyl die dorp besig is om herskep te word: Die lelike eendjie wat in die mooiste swaan verander en sy vere regskud om teen agt dorpe in Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie mee te ding.
Ongeag uitdagings soos beurtkrag was almal opgewonde oor die geleentheid.
Dit is hoe ons aanmekaargeweef is.
Ons klink ’n glasie op ’n baie suksesvolle Bokkieweek wat mens en siel weer verenig het.