Die bekende aktrise, skoonheidskoningin en motiveringspreker Savahna Grimbeek het die vroue van die NG moedergemeente Koppies op ’n vroueoggend toegespreek.
Met die praatjie op 11 November het Grimbeek die vroue vertel oor haar liefdadigheidsorganisasie, die Beloved-stigting, wat hom op jeugontwikkeling, voedingskemas en gemeenskapshulpprojekte toespits.
Die stryd teen geweldsmisdaad teen vroue en kinders lê haar ook na aan die hart en sy staan graag slagoffers by en skep bewusmaking oor dié saak.
Haar bediening, genaamd Blom waar jy geplant is, werk hoofsaaklik met tieners en vroue; haar praatjie in Koppies het gehandel oor vroue wat ongeag hul krake, oftewel tekortkominge, met God se genade moet en kan blom.
Die vroue wat die praatjie bygewoon het, het die oggend as lewensverykkend beskryf, en het gesê dat hulle heerlik saam met Grimbeek gekuier het.
Grimbeek was verlede jaar ’n Mev. Globe SA-finalis.
Lesers sal haar onthou vir haar rolle in bekende sepies soos Binnelanders, Getroud met Rugby en 7de Laan.
Sy het ook twee dagboeke geskryf en is nou besig met ’n derde boek.