Aanhou die sleutel tot sukses

Die verhaal van Mary Groda is ’n merkwaardige een. Dit klink nie asof dit waar kan wees nie.


Die verhaal van Mary Groda is ’n merkwaardige een. Dit klink nie asof dit waar kan wees nie.

Mary het nooit as kind leer lees en skryf nie. Kundiges het haar as verstandelik vertraag beskryf. Toe sy ’n tiener was, het mense haar afgemaak as iemand wat nooit enigiets sal bereik nie.

Toe sy na ’n verbetering­skool gestuur is, is sy uitgedaag om te leer en te groei. Sy het tot 16 uur per dag aan haar studie bestee, en haar hoërskooldiploma met lof verwerf.

Ná skool het sy ’n buite-egtelike kind verwag. Twee jaar later het haar tweede swangerskap ’n beroerte veroorsaak, wat meegebring het dat sy al haar lees- en skryfvermoëns verloor het.

Al haar harde werk was tot niet.

Sy het haarself in ’n finansiële krisis bevind en die welsyn moes help. Om te oorleef het sy sewe kinders in pleegsorg geneem.

In hierdie tyd het sy by ’n kollege begin klas draf. Nadat sy sekere kursusse voltooi het, is sy by die mediese kollege in Albany aanvaar om haar as ’n dokter te bekwaam.

In die lente van 1984, in die Amerikaanse staat Oregon, het Mary die verhoog opgestap om haar graad te ontvang.

Ek dink nie iemand kon die absolute gevoel van oorwinning begryp wat sy op daardie oomblik ervaar het nie.

Al was alles teen haar, het sy haar doel bereik. Sy het gewaag om die onmoontlike te droom.

Die een eienskap wat Mary aan die bopunt van die suksesleer gebring het, was haar deursettingsvermoë.

Hoe baie keer vermaan God se Woord ons nie om aan te hou sonder opgee nie.

Lees Hebreërs 12:1-3.

  • De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.